Ons boer vooruit!
Hoërskool Porterville se landbou-afdeling is sterk gevestig in die skool se landelike omgewing en is sedert 2017 as ’n volwaardige landbouskool geregistreer. Die afdeling fokus op praktiese opleiding en modernelandboupraktyke, met fasiliteite soos ’n nethuis, RFID-skaaphanteringstelsel, twee tonnels, olyfboorde, Dohne Merino-skape en Dexter-beeste.
Leerders kry blootstelling aan verskeie vertakkings van landbou en landboutegnologie om hulle voor te berei vir verdere studies en die landboubedryf.
Landbouprestasies
Skaapskeer
Hoërskool Porterville se leerders neem sedert 2023 jaarliks deel aan die Nasionale Skaapskeerkampioenskappe in Bloemfontein. Hierdie deelname bied aan leerders die geleentheid om hul vaardighede op nasionale vlak te ontwikkel en uit te leef.
Stockman-kursus
Ons Graad 10-Landbouleerders neem jaarliks deel aan die Stockman-kursus saam met Augsburg, Boland Landbouskool, Hoërskool Swartland en Hoërskool Porterville.
Die kursus bestaan uit vier afdelings:
Vleiskunde
Wolkunde
Dieregesondheid
Dierehantering
Leerders voltooi sowel ’n teoretiese toets as praktiese assesserings om die algehele wenner te bepaal.
Hoërskool Porterville het die afgelope drie jaar agtereenvolgend die eerste plek in die Stockman-kursus behaal — ’n uitstekende prestasie waarop ons baie trots is.
Wolkursus
Hoërskool Porterville se Graad 11-Landbouleerders voltooi jaarliks ’n stukkiesklaskursus as deel van hul PAT. Die kursus word deur BKB aangebied en bied waardevolle praktiese ervaring in die wolbedryf.
Algemeen
● Hoërskool Porterville se olywe is reeds vir etlike jare in volle produksie.
● Die olywe word verwerk tot olyfolie wat gebottel en verkoop word.
● ’n Tweede tonnel is tans in aanbou om produksie verder uit te brei.
● Ons skaapkudde het ’n indrukwekkende lampersentasie van 150% behaal.
● ’n Halwe hektaar grond word tans ontwikkel in kampies waar permanente weidings gevestig sal word.
Ons Landboupersoneel
Evert Kleynhaüs
Mnr Calvin Robertson
Mnr Jan (Ernie) Sofat